Uncategorised

Skaam….

Daar was in een van die tien laerskole (regtig) waarin ek was ‘n outjie saam met ons in die klas, wat dit nie maklik gehad het nie.
Sy kleertjies was altyd skoon, maar dun gewas. Sy twee ouer boeties se nekke het ook teen sy hempskrae geskuur en sy skoene het gekom soos die twee boetjies uit hulle uitgegroei het.
Sy pa het nie tande gehad nie, maar hy kon ‘n groot pak Simba tjips opgeëet deur die tjips binne in sy regterhand met sy linkerduim fyn te druk en dan in sy mond te gooi.
Hy het dan ook altyd ‘n nat lap byderhand gehad om sy hand weer af te vee want anders het hy tjip-vet op die hotel se snoekertafel gemors. Hy moes dan ook elke keer poeier op die hand en linkerduim gooi, om te keer dat die snoekerstok nie tussen die klammerige vingers vassteek wanneer sy beurt kom om te skiet nie.
Ek noem liewer nie dorp- of mensname nie – want mens weet nooit wie dalk nog sal kan onthou nie. Kom ons gee hulle sommer storiename – die tandlose oom noem ons Oom Gert en die jongste boetie, Barend.
Ekskuus vir die Gerte en Barende wat hier lees.
Oom Gert het nie toegelaat dat sy keel droog word nie – maar die kroegman het ook geweet dat wanneer oom Gert ‘n snoekerpot verloor, het hy genoeg van die voggies wat hierdie klomp onbevoegdes van die ANC nou so pla, ingehad.
Oom Gert het ons ook in boks afgerig en behalwe dat hy kon tjips eet en brandewyn drink, kon hy sy appels handig gooi. Wanneer hy agter sy mikke ingetrek het, het dit gewoonlik ou sersant Hefer en ‘n fris konstabel gekos om hom agter die mikke uit te haal.
So – voor hy twee potte na mekaar verloor, is oom Gert met gesukkel en mooipraat in sy kar gehelp en het hy rukkerig rigting gekry – huistoe.
Ja dit was seker maar dronkbestuur, maar niemand sou dit waag om sy sleutels te vat of vir hom te sê dat hy nie kon bestuur nie.
Die enigste ding wat hy kon stamp was die trein want hy het skaars 300 tree van my pa se hotel af aan die anderkant van die treinspoor gewoon.
Daardie dae, was die treine stiptelik en jy kon soggens vroeg jou horlosie op vyf oor ses stel, wanneer die treindrywer die dorpie onnodiglik wakker gemaak het as hy deurkom van die Noorde af.
Die wat oom Gert in sy kar ingehelp het, het altyd die tyd dopgehou en hom losgelaat wanneer hulle seker was dat die trein van Johannesburg af, nog ver weg, of net verby was.
Die snoeker en huistoe ry van sy pa was egter nie Barend se grootste kopseer nie – dit was wanneer ons rugby gespeel het waar hy hom vir sy pa se uitbundigheid geskaam het.
Ek sal nooit vergeet hoe hy altyd, wanneer ons op die veld moes draf voor die begin van ‘n wedstryd, rondgekyk het en wanneer hy sy pa langs die veld gewaar het, het sy gesig sommer geval.
Ek het altyd probeer troos deur te sê dat die mense nie eers hoor wat sy pa skreeu nie, maar dit was nie waar nie, want dominee het een Saterdagoggend twee blokke ver van die pastorie af gestap, om oom Gert oor sy taal gebruik voor die kinders te kom aanspreek.
Ek moet darem sê dat sy aanmoediging baie gehelp het, want as oom Gert geskreeu het – “kom Bothatjie gee uit vir Barend – geee uuuuiiiittt! – dan het ek vinnig, maar mooi uitgegee, sodat Barend tog net nie aanslaan of misvang nie.
Een ding was seker, as oom Gert geskreeu het dat Barend moet gaan druk, dan was 15 ouens aan die teenkant nie genoeg om te keer nie. Barend het gaan druk – sommer ook onder die pale, soos oom Gert beveel het.
Ek het baie gewonder wat van oom Gert en Barend geword het – my pa het altyd gesê dat Barend dit ver in rugby sou bring – terwyl hy darem ook gehoop het dat ek eendag eerste span iewers sou speel…
Waarom vertel ek vir julle die storie?
Wel jy sien die saak staan so!
Ek weet vandag, na al die jare, presies hoe Barend moes voel wanneer sy tandlose pa langs die rugbyveld, voor die vleuels uitgehardloop het en lispend geskreeu het waar hulle moet druk en wat gaan gebeur as hulle nie druk nie. Hy het ook sommer gewaarsku wanneer ‘n opponent jou inhaal van agter af.
Die skeidsregter se oë se ligging was ook dikwels aan hom verduidelik en die vlagman se onvermoeë om te sien waar die bal uit was, was ook dikwels uitgewys.
My pa het altyd gevrees dat die gebrek aan tande gaan veroorsaak dat iemand in ‘n geveg, na die tweede snoekerpot wat hy verloor, sy vuis in oom Gert se keel gaan afslaan.
Ek het dikwels daarvan gedroom net voor, of soms na, ek van daardie twee kindertjies wat op die Bisto sous boksie verskyn het, gedroom het. Hulle het my elke week ten minste een keer kom terroriseer.
Terug na die rede vir hierdie skrywe.
Soos Barend gevoel het, so voel ek deesdae wanneer een van ons “hororable members” van die ANC op TV kom om te verduidelik waarom ons land in sy huidige toestand is.
‘n Oorsese vriend skakel nou die aand daar van Skotland af (hy bel op Whatsapp want dit is die Skotse nasionale vermaak – dit is verniet en daarom hoor ek nogal dikwels van my ou Skotse maat.) Hy deel my toe sommer so met die intrapslag mee dat hulle daar lekker gelag het vir iemand wat hom voorgedoen het as ‘n Suid-Afrikaanse minister – met iemand wat in die agtergrond moes ooplê om by te bly met die gebare taal.
Ek lag ook toe maar saam en vra hoe dit daar by hulle gaan.
Ek skaam my vir die eerste keer in my lewe vir iets wat Suid-Afrikaans is. ‘n Regering wat tot die Reënboog van die Reënboog-nasie gesteel of verloor het.
Toe Ramaphosa ‘n paar maande gelede met groot bravade aangekondig het dat “hulle” R500 biljoen of wat ookal, beskikbaar stel om “ons” deur die krisis op hande te help, het ek regtig nie hoop gehad dat ek of veel ander van die wat met die populêre velkleur wat almal wil hê, geseënd is, iets sou kry nie.
Ek was egter soos baie ander, simpel of naief genoeg, om te hoop en ook sommer te bid, dat daardie geld by die regte persone sou uitkom.
Maar nee – nie eers die grootste krisis in ons land se geskiedenis kon keer dat hierdie klomp skelm gierigaards hulle sakke weer volstop nie.
Ek sien vanaand ‘n faktuur wat uitgemaak is vir iets soos R3m deur ‘n klein besigheid wat blykbaar in die Oos-Kaap die publiek oor COVID – 19 ingelig het nie.
Hulle het geen trots nie, geen teken van patriotisme nie, geen lojaliteit nie, selfs nie eers moed of vertroue in hulself nie, daarom val hulle ou en weerlose mense op plase in groepe aan – dan martel hulle die ou mense soms vir ure voor hulle hulle vermoor.
Het hierdie mense nie ‘n einde nie? Het hulle regtig geen visie nie?
Het hulle geen gewetens, of ten minste selfrespek, of trots nie?
Die ergste is dat die vreeslik beskaafde moere wat so te kere gegaan het oor die onmenslike lyding van die arme swartmense onder apartheid en die onregverdigheid daarvan – nou skielik skitter in hul afwesigheid – hulle het skaars iets te sê oor die wreedste moorde ooit, oor die diefstal van fondse wat moes gaan vir infrastruktuur en vir bemagtiging van armes en die tans baie erger as ooit voorheen, benadeeldes.
Waar is die grote Peter Hain en sy trawante nou, waar is die groot bekke wat so gesteld was op kamstige regverdigheid?
Ek skaam my om te kyk hoe hierdie klomp dikvellige ANC trawante net eenvoudig ongestoord stoomroller oor alles wat voor hulle kom en alles wat nog staande is.
Erger – veel erger as die sprinkaan plae bo in Afrika – dik, vet en uitgevreet ry hulle rond in karre, waarvan hulle meestal nie eers die name kan uitspreek nie, met geld van VBS, Eskom, die SAUK, die SAL, die spoorwee, Poskantoor, Polisie, Weermag – stadsrade en elke ander ding waar hulle toegang tot enige fondse gehad het. Eers was dit ‘n paar honderdd Rand, toe duisende, later honderd duisende, toe miljoene en so waar ek leef, hulle kry dit toe reg om biljoene te steel. Die volgende logiese ANC stap is dus Triljoene…en dit behoort dit te maak tot 2022 – dan het ons vir Zimbabwe ‘n boetie gekweek.
Niks, net mooi niks is verbeter, instand gehou of opgerig soos dit ‘n kamstig beskaafde nasie betaam nie.
NIKS! Want hulle is nie instaat om te regeer nie, nie oor ‘n plattelandse dorpie met een stopstraat nie – laat staan nog oor die beste Afrika land.
Hulle steel die geld onder neuse uit van jongmense vir wie daar werk geskep moes word. Hulle koop Bentleys en Maybachs met geld wat huise en hospitale moes bou. Geld waarmee skole elke dag verbeter en instandgehou moes word…
Sien die jongmense dit nie raak nie, of is hulle tevrede om as werkloses beskryf te word?
Natuurlik is daar duisende swart mense wat netso ontevrede is – netso skaam is oor al die gebeure – maar hou maar die volgende verkiesing dop – meeste van hulle gaan stembus toe met ‘n petrolkan in die een en ‘n aansteker in die ander hand weer vir die “Vryheidsvegters” of is dit Freedom Looters stem. Hulle steun steeds die skaamteloos korrupte ANC – die party van Nelson Mandela – wat bestuur en beheer word deur sy “Comrades” en moet asseblief nie glo dat hy dalk in sy graf omdraai nie – hy het elkeen van hulle geken – en hy was ten minste slim genoeg om te weet dat dit wat gebeur, sou gebeur.
Ek laat my nie vertel dat die planne nie reeds op Robbeneiland gemaak was nie.
Hy het saam met Ramaphosa gelag oor die voorwaardes en beloftes van die onderhandelings by Codesa – wag maar kyk wat hulle gaan doen nadat hulle die triljoene van die pensioenfondse ook onder hulle verdeel het.
Dan gaan hulle die blanke eiendom probeer gryp – en dit is waar die probleempies wat hulle gaan kry, die huidige riool probleem na ‘n helder waterstroompie gaan laat lyk.
Ek skaam my – soos Barend hom destyds vir sy pa geskaam het, maar dank die liewe Heer dat dit nie my pa is wat langs die veld op en af hardloop en die mense se handsakke gryp en die roomysverkoper se karretjie steel, terwyl die kiesers kyk hoe ‘n drie gedruk word nie.
Moet julle nie blindstaar teen die sigaret- en drank verbod nie, moet julle nie blindstaar teen die COVID pandemie nie.
Help eerder soek na enige goed voorbereide hospitale wat hulle kamstg gebou het – behalwe die een in die DA beheerde Wes-Kaap en die een in die Oos-Kaap wat Volkswagen opgerig het. Ek praat nie van skure met nuwe beddens in nie – ek praat van hospitale waar mense behandeling kan en gaan ontvang.
Wat hulle wel doen teen ‘n groot bedrag geld – hulle grou blykbaar meer as ‘n miljoen grafte. Ons gaan sekere Sjinese invoer om hier te ruste te lê?
Ek skaam my…netsoos hulle nie die blanke erken nie, so misken ek hulle… maar ek erken ten minste hul onvermoee om enigiets wat die moeite werd is, te doen.
(c) Leon Botha 2020

Author

gunter@bluedigitalmagic.com

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

THE BUMBLING PREZ

19th Jul 2020